Monday 12 August 2013

Die Begin

Lank lank gelede, wel, wat soos ʼn ewigheid voel, was daar ʼn program op televisie wat my jonge self baie beïndruk het. Ure lank het ek aan elke woord gehang en gekyk hoe die een na die ander fantastiese dis of brousel voorberei is ... die begaafde Annette Human het ons deur menigde resep gelei met TV Tuiskombuis. Op 16 het my obsessie begin; ek’t my ma se oond kaf gedraf met allerhande koeke en lekkernye, van Koeksisters, Vlakoek tot Sjokoladekoek, Hertzoggies en vele meer. My arme ma kon nie voorbly met bestanddele nie. Ek onthou een skoolvakansie het ek 16 koeke in totaal gebak. Ons tande het wonder bo wonder die soet weerstaan, die selfde kan nou nie gesê word van ons Saartjie Baardman agterente nie.
Vandag kry ek maar min tyd vir bak. ʼn Paar maande terug het ek in my nuwe huis ingetrek. Voor my stoof het ek gaan staan, die ses-plaat-manufieke-ystergietsel wat geglinster het van nuutheid en geblink het van niksdoen (min wetende dat hy nog vir baie lank sou blink). Ja, niks doen was die wagwoord, maar nie te min. Ek het bly droom van my koeke en brode, terte en ander lekkernye, maar waar moes ek tyd kry. Tussen opstaan, kind kosgee, werk toe gaan, werk, huis toe kom, kind kosgee, wasgoed was, huis skoon maak en administratiewe kak was daar maar min tyd vir brode knie.
En toe op ʼn dag bevind ek myself voor die oond met ʼn doodse stilte wat oor die huis neerdaal. My man en kind was uit op ʼn uitstappie. Vir ʼn oomblik het paniek my oorrompel ... wat nou. En toe gaan daardie liggie aan en daardie stem fluister in my oor ... bak suster, bak!! Met al die tegnologie wat ons omring van iPads, iPhones, "touch screen ” rekenaars en vele meer en dan ook die “old school” kookboeke, jy weet die tiepe wat op papier gedruk is met woorde van ink, waar sou ek dan begin, die keuse was nimmereindigend.
 

No comments:

Post a Comment