Monday 12 August 2013

Piesangbrood Sukses

My eerste probeerslag was 'n Piesangbrood. Die resep het saam met 'n Bellini Kitchen Master gekom en was 'n reuse sukses tot so 'n mate dat ek sedertdien ten minste drie tot vier piesangbrode 'n week bak. Voorbereiding, veral met die hulp van 'n elektriese menger, neem skaars 15 minute.
 
Hier is die resep, 'n absolute wenner!
 
Piesangbrood
3 Piesangs (Bananas)
1/4 Koppie Karringmelk (Buttermilk)
1/4 Koppie Olie (Rice Bran Oil - hoogs aanbeveelde kolesterol vrye alternatief)
2 Eiers (Eggs)
2/3 Koppie Koekmeel (Plain Flour)
2/3 Koppie Volkoringmeel (Wholemeal Flour)
2/3 Koppie Bruinsuiker (Brown Suger)
1 Teelepel Koeksoda (Baking Soda)
1 &1/2 Teelepel Bakpoeier (Baking Powder)
 
Voorverhit jou oond teen 180grade Celsius.
 
Sny piesangs op in redelike klein stukke in 'n mengbak. Met die hulp van 'n houtlepel kan jy die piesangs fyndruk tot sapperig, maar sodat daar nog hier en daar 'n kleinerige stukkie piesang oor is.
 
Gooi die fyngedrukte piesang saam met melk, olie, bruinsuiker en eiers in ʼn menger tot alle bestanddele deeglik deurmekaar gemeng is.
 
Sif die droë bestanddele by die mengsel in, dis nou die meel, koeksoda en bakpoeier. Sit jou menger aan en meng tot al die bestanddele weereens goed gemeng is. Maak seker die mengsel is klont vry en dat alle droë meel ingewerk is.
 
Gooi die mengsel in 'n middelslag broodpan wat met bakpapier uitgevoer is. Plaas in jou oond op die onderste rak en laat bak vir 45 minute.
 
Sedert elektriese oonde redelik van "fan" aangedrewe oonde verskil sal ek dit streng aanbeveel om die brood fyn dop te hou. Sodra dit brood goudbruin raak aan die bokant en oop bars is dit reg vir sy eerste pentoets. Steek 'n dun breipen of sosatiestokkie in die middel van die brood om te sien of daar deeg enigsins aan die pen vassit met die uittrekslag. Sou daar deeg wees, sou ek dit nog so 5 tot 10 minute gee voor ek dit weer sal probeer tot daar geen meer rou deeg aan die pen vassit nie.
 
45 Minute teen 180grade Celsius is ideaal vir 'n "fan" aangedrewe oond soos myne en is presies net genoeg tyd vir die brood om gaar te word.
 
Haal die brood uit die oond en laat afkoel op 'n ysterrak.
 
Hierdie brood is heerlik op sy eie, maar kan ook bedien word met botter of konfyt na smaak.
 

 
 

No comments:

Post a Comment