Monday 12 August 2013

Wille Wragtig, dis 'n Wortelkoek

Wortels is een van die groentes waarvan ek altyd die meeste in die huis het en die minste eet. In 'n poging om minder wortels aan die drom op te offer het ek besluit dis tyd om 'n Wortelkoek te bak. Ek is nie juis een vir neute of sultanas in koeke nie, tensy dit natuurlik 'n Vrugtekoek is wat 'n goeie dosis brandewyn weg het. Vir hierdie rede het ek gesoek vir 'n plein en eenvoudige resep wat maklik is om aanmekaar te slaan en nogsteeds lekker val op die tong.
 
Hierdie resep is definitief 'n absolute wenner. Met my eerste probeerslag was dit 'n reuse sukses. Die koek was skaars koud en versier toe waai die krummels al.
 
Geniet dit!
 
Wortelkoek
 
2 Middelslagtige Wortels (Carrots)
1 Koppie Rysmeel (Self-Raising Flour)
1/2 Koppie Koekmeel (Plain Flour)
1 Teelepel Koeksoda (Baking Soda)
1/2 Teelepel Fyn Kaneel (Cinnamon)
1/2 Koppie Bruinsuiker (Brown Sugar)
3/4 Koppie Olie (Rice Bran Oil - hoogs aanbeveelde kolesterol vrye alternatief)
1/2 Koppie Stroop (Golden Syrup)
3 Eiers (Eggs)
1 Teelepel Vaniljegeursel (Vanilla Essence)
 
250g Roomkaas (Spreadable Cream Cheese)
1/2 Koppie Versiersuiker (Icing Sugar)
1/2 Teelepel Vaniljegeursel (Vanilla Essence)
 
Voorverhit jou oond teen 170grade Celsius.
 
Sprei twee middelslagtige ronde koekpanne ligtelik met olie en voer met bakpapier uit. Rasper afgeskilde wortels met die growwe kant van jou rasper en sit dit eers eenkant tot later. Sif meel, koeksoda en kaneel saam in 'n groot mengbak.
 
Kombineer bruinsuiker, olie, stroop, eiers en vanillageursel in 'n aparte mengbak. Ek beveel 'n elektriese menger streng aan om hierdie bestanddele deurmekaar te meng. 'n Houtlepel sal heelwat "elbow grease" vat aangesien die stroopmengsel taamlik dik is.
 
Voeg die olie en droë bestanddeel mengsels bymekaar in een bak en meng versigtig deurmekaar met 'n houtlepel. Weereens kan ek 'n elektriese menger aanbeveel. Sodra alles goed gemeng is kan die grof gerasperde wortels bygevoeg word vir 'n finale meng.
 
Gooi mengsel helfte-helfte in die twee gesmeerde koekpanne en plaas op die onderste rak van jou oond vir 30 minute. Sou jy verkies om een groot pan te gebruik in plaas van twee aparte middelslagtige panne sal ek aanbeveel om jou tyd aan te pas en die koek langer in jou oond te hou. 'n Groot pan mag 50 minute tot 'n uur neem om deur te kook.
 
Hou ʼn ogie op jou koek. Sodra die koek goudbruin raak en ietwat van die pan loskom is dit reg vir 'n pentoets. Steek 'n dun breipen of sosatiestokkie in die middel van jou koek. As daar geen rou deeg aan die pen met die uittrekslag vassit nie is die koek reg om uitgehaal te word.
 
Haal die twee panne uit en laat staan vir 5 minute. Keer beide panne op 'n ysterrak uit en laat die koek afkoel.
 
Wanneer die koek afgekoel is, is dit tyd vir versiering. Meng die versiersuiker, roomkaas en vanillageursel saam in 'n mengbak met 'n houtlepel tot goed deurmekaar gemeng. Smeer helfte van die mengsel op die eerste van die twee lae as 'n middel laag en die ander helfte op die tweede as die bolaag van jou koek. Plaas die lae bo-op mekaar.
 
As presentasie enigsins van belang is sal ek aanbeveel dat jy dit afrond deur 'n klein bietjie kaneel en versiersuiker bo-oor jou koek te sprinkel en twee kaneel stokkies in die middel van jou koek te plaas.
 
Die koek is reg om geëet te word. So sit aan daardie ketel, maak jouself 'n lekker koppie tee en geniet 'n sny!
 
 

No comments:

Post a Comment