Friday 16 August 2013

Lekkerste Lekker Vlakoek

Oor al die jare en na vele bak- en brouwerk is daar een koek wat nogsteeds bo al die ander uittroon. Hierdie koek en sy ewig suksesvolle resep is 'n persoonlike en familie gunsteling. Dit is lig en donsig en perfek vir daardie namiddag soettand.

Vlakoek

1 Koppie Koekmeel (Plain Flour)
75ml Mielieblom (Cornflour)
1 Teelepel Bakpoeier (Baking Powder)
1ml Sout (Salt)
5 Eiers Geskei (Eggs)
1 Koppie Strooisuiker (Caster Sugar)
100ml Yswater (Cold Water)

2 Koppies Melk (Milk)
75ml Vlapeier (Custard Powder)
1ml Sout (Salt)
125g Sagte Botter (Soft Butter)
1 Koppie Strooisuiker (Caster Sugar)
1 Teelepel Vanieljegeursel (Vanilla Essence)
Paar druppels Amandelgeursel (Almond Flavouring)
Geroosterde Klapper (Coconut flakes)

Voorverhit jou oond teen 180grade Celsius

Sprei twee middelslagtige ronde koekpanne ligtelik met olie en voer met bakpapier uit.

Sif meel, mielieblom, bakpoeier en sout saam. Klits eiergele en suiker saam tot romerig. Klits yswater geleidelik by. Vou droë bestanddele by die eiermengsel in. Ek kan aanbeveel om 'n elektriese menger vir die samevoeging van die droë bestanddele en eiermengsel te gebruik.

Klits eierwitte tot styf en vou dan ook in die mengsel in. Gooi mengsel helfte-helfte in die twee middelslagtige ronde koekpanne en bak vir 25 tot 30 minute op die onderste rak van jou oond.

Hou ʼn ogie op jou koek. Sodra die koek goudbruin raak en ietwat van die pan loskom is dit reg vir 'n pentoets. Steek 'n dun breipen of sosatiestokkie in die middel van jou koek. As daar geen rou deeg aan die pen met die uittrekslag vassit nie is die koek reg om uitgehaal te word.

Haal die twee panne uit en laat staan vir 5 minute. Keer beide panne op 'n ysterrak uit en laat die koek afkoel.

Sodra jy jou koek in die oond sit kan jy begin met die voorbereiding van jou vla vulsel en versiersel.

Verhit 400ml van die melk en los die vlapoeier in die oorblywende 100ml op. Voeg sout by die vlapoeiermengsel. Roer vlamengsel vinnig in warm melk in en roer aaneenhoudend met gebruik van 'n draadklopper. Kook die vla tot dit dik is.

Laat staan die vla eenkant tot dit afgekoel is.

Klop botter en strooisuiker tot dit lig en donsig van tekstuur is. Roer geursels by en klits koue vla dan geleidelik by. Wanneer alles goed deurmekaar gemeng is, is die vulsel en versiersel reg.

Smeer vulsel dik tussen lae, rondom en bo-op koek en bestrooi met klapper vir afronding.

Die koek is gereed om aan gesmul te word!
 




 


10 comments:

  1. Daardie koek lyk goor :(

    Hoekom is die lys met bestandele in Afrikaans & Engels, maar die metode net in Afrikaans?

    ReplyDelete
    Replies
    1. Bak en proe voor jy judge hoe dit lyk!!

      Delete
    2. Lees die naam heeeel bo-aan: KOOK EN GENIET. Dit is in AFRIKAANS.

      Delete
    3. Die resep kom uit my kindertyd. Wanneer dit v 3 dae staan, word dit al hoe lekkerder. Hoe langer dit staan, hoe lekkerder. Ongelukkig bly staan dit nooit lank genoeg nie. Altyd 'n treffer. :)

      Delete
  2. Huisgenoot is AFRIKAANS. En as mens nie iets mooi kan sê oor die koek nie, bly dalk eerder stil. Iemand anders het hard gebak daaraan.

    ReplyDelete
  3. Ai tog, party mense is darem onvergenoegd. Ek het hierdie koek nounet klaar gebak. Dis absoluut 'n treffer en heerlik. Baie dankie vir die resep.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Is dit'n hoe koek? En dan wil ek asb. weet hoe lank mens die botter en suiker moet klop. En as die vlamengsel bygevoeg is, hoe lank moet ek dan weer klits. Ek dink ek klits miskien te veel, want dit lyk of my vla geskif is.

      Delete
    2. Unknown van 10/10.2018. Stuur gerus 'n foto van 'n koek wat jy gebak het. As jy nie eens weet hoe lank om die versiersel te klits nie, dan wonder ek oor jou vermoe om te bak! Wys wat jy kan doen voor jy kritiseer!

      Delete
  4. Just Baked this cake in a 6 layer, and BOY O BOY it is a Fabulous Recipe!
    All other I tried was dry and I could have just as well used a vanilla chiffon.
    If you know what you're doing, this is a STUNNER.
    Thank you so much.

    ReplyDelete