Sunday 18 August 2013

Wenner van 'n Sjokolade-Oliekoek


Hier is nou vir jou 'n lekker en maklike reseppie vir 'n sjokoladekoek. Ek kan dit streng aanbeveel. Die koek was 'n reuse sukses met my gesin.

Sjokolade-Oliekoek
1/2 Koppie Kakao (Coco)
1 Koppie Kookwater (Boiling Water)
4 Groot Eiers (Eggs)
1 1/2 Koppie Suiker (Sugar)
1/2 Koppie Olie (Rice Bran Oil - hoogs aanbeveelde kolesterol vrye alternatief)
1 Teelepel Vanieljegeursel (Vanilla Essence)
1 4/5 Koppie (450ml) Koekmeel (Plain Flour)
3 Teelepels Bakpoeier
1/2 Teelepel Sout

1 Koppie Suiker (Sugar)
50ml Mielieblom (Cornflour)
50ml Kakao (Coco)
7ml Kitskoffiepoeier (Instant Coffee)
1 1/2 Koppie Water (Water)
50ml Sagte Botter (Butter)

Voorverhit jou oond teen 180grade Celsius.

Sprei twee middelslagtige ronde koekpanne ligtelik met olie en voer met bakpapier uit.

Meng die kakao en kookwater totdat alle klonte opgelos is en laat die mengsel eenkant om af te koel. Klits die eiergele saam. Kits dan die suiker bietjiesgewys by en hou aan klits totdat die mengsel liggeel en sponsagtig dik is.

Roer die kakaomengsel, olie, en vanieljegeursel by die eiergeelmengsel. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en roer dit ook by. Klits die eierwitte tot styf en vou dit in die deeg in.

Gooi die deeg in die twee panne en bak vir 25 tot 30 minute op die onderste rak van jou oond.

Hou ʼn ogie op jou koek. Sodra die koek bruin raak en ietwat van die pan loskom is dit reg vir 'n pentoets. Steek 'n dun breipen of sosatiestokkie in die middel van jou koek. As daar geen rou deeg aan die pen met die uittrekslag vassit nie is die koek reg om uitgehaal te word.

Haal die twee panne uit en laat staan vir 5 minute. Keer beide panne op 'n ysterrak uit en laat die koek afkoel.

Sodra jy jou koek in die oond sit kan jy begin met die voorbereiding van jou versiersel.

Meng al die versiersel bestanddele (suiker, mielieblom, kakao, kitskoffie, water en sagte botter) saam in ʼn yster of glasbak wat bo-op 'n pot sal pas. Vul die pot met water en bring tot kookpunt. Plaas bak met bestanddele bo-op en roer aaneenhoudend tot die mengsel dik word. Dit kan 'n hele rukkie neem. Sodra die mengsel dik is, is dit reg en kan die van die stoof af kom en eenkant gesit word om af te koel.

Wanneer jou koek lae afgekoel is kan jou versierwerk begin. Ek kan 'n middellaag karamel hoog aanbeveel. Die sjokoladeversiersel wat jy gemaak het kan gebruik word om bo-op en rondom die koek te smeer. Rond die koek af deur gerasperde sjokolade en "hundreds and thousands" bo-oor te sprinkle.

Die koek is reg om bedien te word! Geniet elke krummel.
 



 

Friday 16 August 2013

Lekkerste Lekker Vlakoek

Oor al die jare en na vele bak- en brouwerk is daar een koek wat nogsteeds bo al die ander uittroon. Hierdie koek en sy ewig suksesvolle resep is 'n persoonlike en familie gunsteling. Dit is lig en donsig en perfek vir daardie namiddag soettand.

Vlakoek

1 Koppie Koekmeel (Plain Flour)
75ml Mielieblom (Cornflour)
1 Teelepel Bakpoeier (Baking Powder)
1ml Sout (Salt)
5 Eiers Geskei (Eggs)
1 Koppie Strooisuiker (Caster Sugar)
100ml Yswater (Cold Water)

2 Koppies Melk (Milk)
75ml Vlapeier (Custard Powder)
1ml Sout (Salt)
125g Sagte Botter (Soft Butter)
1 Koppie Strooisuiker (Caster Sugar)
1 Teelepel Vanieljegeursel (Vanilla Essence)
Paar druppels Amandelgeursel (Almond Flavouring)
Geroosterde Klapper (Coconut flakes)

Voorverhit jou oond teen 180grade Celsius

Sprei twee middelslagtige ronde koekpanne ligtelik met olie en voer met bakpapier uit.

Sif meel, mielieblom, bakpoeier en sout saam. Klits eiergele en suiker saam tot romerig. Klits yswater geleidelik by. Vou droë bestanddele by die eiermengsel in. Ek kan aanbeveel om 'n elektriese menger vir die samevoeging van die droë bestanddele en eiermengsel te gebruik.

Klits eierwitte tot styf en vou dan ook in die mengsel in. Gooi mengsel helfte-helfte in die twee middelslagtige ronde koekpanne en bak vir 25 tot 30 minute op die onderste rak van jou oond.

Hou ʼn ogie op jou koek. Sodra die koek goudbruin raak en ietwat van die pan loskom is dit reg vir 'n pentoets. Steek 'n dun breipen of sosatiestokkie in die middel van jou koek. As daar geen rou deeg aan die pen met die uittrekslag vassit nie is die koek reg om uitgehaal te word.

Haal die twee panne uit en laat staan vir 5 minute. Keer beide panne op 'n ysterrak uit en laat die koek afkoel.

Sodra jy jou koek in die oond sit kan jy begin met die voorbereiding van jou vla vulsel en versiersel.

Verhit 400ml van die melk en los die vlapoeier in die oorblywende 100ml op. Voeg sout by die vlapoeiermengsel. Roer vlamengsel vinnig in warm melk in en roer aaneenhoudend met gebruik van 'n draadklopper. Kook die vla tot dit dik is.

Laat staan die vla eenkant tot dit afgekoel is.

Klop botter en strooisuiker tot dit lig en donsig van tekstuur is. Roer geursels by en klits koue vla dan geleidelik by. Wanneer alles goed deurmekaar gemeng is, is die vulsel en versiersel reg.

Smeer vulsel dik tussen lae, rondom en bo-op koek en bestrooi met klapper vir afronding.

Die koek is gereed om aan gesmul te word!
 




 


Monday 12 August 2013

Wille Wragtig, dis 'n Wortelkoek

Wortels is een van die groentes waarvan ek altyd die meeste in die huis het en die minste eet. In 'n poging om minder wortels aan die drom op te offer het ek besluit dis tyd om 'n Wortelkoek te bak. Ek is nie juis een vir neute of sultanas in koeke nie, tensy dit natuurlik 'n Vrugtekoek is wat 'n goeie dosis brandewyn weg het. Vir hierdie rede het ek gesoek vir 'n plein en eenvoudige resep wat maklik is om aanmekaar te slaan en nogsteeds lekker val op die tong.
 
Hierdie resep is definitief 'n absolute wenner. Met my eerste probeerslag was dit 'n reuse sukses. Die koek was skaars koud en versier toe waai die krummels al.
 
Geniet dit!
 
Wortelkoek
 
2 Middelslagtige Wortels (Carrots)
1 Koppie Rysmeel (Self-Raising Flour)
1/2 Koppie Koekmeel (Plain Flour)
1 Teelepel Koeksoda (Baking Soda)
1/2 Teelepel Fyn Kaneel (Cinnamon)
1/2 Koppie Bruinsuiker (Brown Sugar)
3/4 Koppie Olie (Rice Bran Oil - hoogs aanbeveelde kolesterol vrye alternatief)
1/2 Koppie Stroop (Golden Syrup)
3 Eiers (Eggs)
1 Teelepel Vaniljegeursel (Vanilla Essence)
 
250g Roomkaas (Spreadable Cream Cheese)
1/2 Koppie Versiersuiker (Icing Sugar)
1/2 Teelepel Vaniljegeursel (Vanilla Essence)
 
Voorverhit jou oond teen 170grade Celsius.
 
Sprei twee middelslagtige ronde koekpanne ligtelik met olie en voer met bakpapier uit. Rasper afgeskilde wortels met die growwe kant van jou rasper en sit dit eers eenkant tot later. Sif meel, koeksoda en kaneel saam in 'n groot mengbak.
 
Kombineer bruinsuiker, olie, stroop, eiers en vanillageursel in 'n aparte mengbak. Ek beveel 'n elektriese menger streng aan om hierdie bestanddele deurmekaar te meng. 'n Houtlepel sal heelwat "elbow grease" vat aangesien die stroopmengsel taamlik dik is.
 
Voeg die olie en droë bestanddeel mengsels bymekaar in een bak en meng versigtig deurmekaar met 'n houtlepel. Weereens kan ek 'n elektriese menger aanbeveel. Sodra alles goed gemeng is kan die grof gerasperde wortels bygevoeg word vir 'n finale meng.
 
Gooi mengsel helfte-helfte in die twee gesmeerde koekpanne en plaas op die onderste rak van jou oond vir 30 minute. Sou jy verkies om een groot pan te gebruik in plaas van twee aparte middelslagtige panne sal ek aanbeveel om jou tyd aan te pas en die koek langer in jou oond te hou. 'n Groot pan mag 50 minute tot 'n uur neem om deur te kook.
 
Hou ʼn ogie op jou koek. Sodra die koek goudbruin raak en ietwat van die pan loskom is dit reg vir 'n pentoets. Steek 'n dun breipen of sosatiestokkie in die middel van jou koek. As daar geen rou deeg aan die pen met die uittrekslag vassit nie is die koek reg om uitgehaal te word.
 
Haal die twee panne uit en laat staan vir 5 minute. Keer beide panne op 'n ysterrak uit en laat die koek afkoel.
 
Wanneer die koek afgekoel is, is dit tyd vir versiering. Meng die versiersuiker, roomkaas en vanillageursel saam in 'n mengbak met 'n houtlepel tot goed deurmekaar gemeng. Smeer helfte van die mengsel op die eerste van die twee lae as 'n middel laag en die ander helfte op die tweede as die bolaag van jou koek. Plaas die lae bo-op mekaar.
 
As presentasie enigsins van belang is sal ek aanbeveel dat jy dit afrond deur 'n klein bietjie kaneel en versiersuiker bo-oor jou koek te sprinkel en twee kaneel stokkies in die middel van jou koek te plaas.
 
Die koek is reg om geëet te word. So sit aan daardie ketel, maak jouself 'n lekker koppie tee en geniet 'n sny!
 
 

Piesangbrood Sukses

My eerste probeerslag was 'n Piesangbrood. Die resep het saam met 'n Bellini Kitchen Master gekom en was 'n reuse sukses tot so 'n mate dat ek sedertdien ten minste drie tot vier piesangbrode 'n week bak. Voorbereiding, veral met die hulp van 'n elektriese menger, neem skaars 15 minute.
 
Hier is die resep, 'n absolute wenner!
 
Piesangbrood
3 Piesangs (Bananas)
1/4 Koppie Karringmelk (Buttermilk)
1/4 Koppie Olie (Rice Bran Oil - hoogs aanbeveelde kolesterol vrye alternatief)
2 Eiers (Eggs)
2/3 Koppie Koekmeel (Plain Flour)
2/3 Koppie Volkoringmeel (Wholemeal Flour)
2/3 Koppie Bruinsuiker (Brown Suger)
1 Teelepel Koeksoda (Baking Soda)
1 &1/2 Teelepel Bakpoeier (Baking Powder)
 
Voorverhit jou oond teen 180grade Celsius.
 
Sny piesangs op in redelike klein stukke in 'n mengbak. Met die hulp van 'n houtlepel kan jy die piesangs fyndruk tot sapperig, maar sodat daar nog hier en daar 'n kleinerige stukkie piesang oor is.
 
Gooi die fyngedrukte piesang saam met melk, olie, bruinsuiker en eiers in ʼn menger tot alle bestanddele deeglik deurmekaar gemeng is.
 
Sif die droë bestanddele by die mengsel in, dis nou die meel, koeksoda en bakpoeier. Sit jou menger aan en meng tot al die bestanddele weereens goed gemeng is. Maak seker die mengsel is klont vry en dat alle droë meel ingewerk is.
 
Gooi die mengsel in 'n middelslag broodpan wat met bakpapier uitgevoer is. Plaas in jou oond op die onderste rak en laat bak vir 45 minute.
 
Sedert elektriese oonde redelik van "fan" aangedrewe oonde verskil sal ek dit streng aanbeveel om die brood fyn dop te hou. Sodra dit brood goudbruin raak aan die bokant en oop bars is dit reg vir sy eerste pentoets. Steek 'n dun breipen of sosatiestokkie in die middel van die brood om te sien of daar deeg enigsins aan die pen vassit met die uittrekslag. Sou daar deeg wees, sou ek dit nog so 5 tot 10 minute gee voor ek dit weer sal probeer tot daar geen meer rou deeg aan die pen vassit nie.
 
45 Minute teen 180grade Celsius is ideaal vir 'n "fan" aangedrewe oond soos myne en is presies net genoeg tyd vir die brood om gaar te word.
 
Haal die brood uit die oond en laat afkoel op 'n ysterrak.
 
Hierdie brood is heerlik op sy eie, maar kan ook bedien word met botter of konfyt na smaak.
 

 
 

Die Begin

Lank lank gelede, wel, wat soos ʼn ewigheid voel, was daar ʼn program op televisie wat my jonge self baie beïndruk het. Ure lank het ek aan elke woord gehang en gekyk hoe die een na die ander fantastiese dis of brousel voorberei is ... die begaafde Annette Human het ons deur menigde resep gelei met TV Tuiskombuis. Op 16 het my obsessie begin; ek’t my ma se oond kaf gedraf met allerhande koeke en lekkernye, van Koeksisters, Vlakoek tot Sjokoladekoek, Hertzoggies en vele meer. My arme ma kon nie voorbly met bestanddele nie. Ek onthou een skoolvakansie het ek 16 koeke in totaal gebak. Ons tande het wonder bo wonder die soet weerstaan, die selfde kan nou nie gesê word van ons Saartjie Baardman agterente nie.
Vandag kry ek maar min tyd vir bak. ʼn Paar maande terug het ek in my nuwe huis ingetrek. Voor my stoof het ek gaan staan, die ses-plaat-manufieke-ystergietsel wat geglinster het van nuutheid en geblink het van niksdoen (min wetende dat hy nog vir baie lank sou blink). Ja, niks doen was die wagwoord, maar nie te min. Ek het bly droom van my koeke en brode, terte en ander lekkernye, maar waar moes ek tyd kry. Tussen opstaan, kind kosgee, werk toe gaan, werk, huis toe kom, kind kosgee, wasgoed was, huis skoon maak en administratiewe kak was daar maar min tyd vir brode knie.
En toe op ʼn dag bevind ek myself voor die oond met ʼn doodse stilte wat oor die huis neerdaal. My man en kind was uit op ʼn uitstappie. Vir ʼn oomblik het paniek my oorrompel ... wat nou. En toe gaan daardie liggie aan en daardie stem fluister in my oor ... bak suster, bak!! Met al die tegnologie wat ons omring van iPads, iPhones, "touch screen ” rekenaars en vele meer en dan ook die “old school” kookboeke, jy weet die tiepe wat op papier gedruk is met woorde van ink, waar sou ek dan begin, die keuse was nimmereindigend.